Roman-in-wording — Porselein: magie en aanvangstoneel

Aan die einde van 2017 het ek begin skryf aan ‘n roman wat ek al ‘n ruk in my kop het. Genaamd Porselein (ten minste vir nou), is dit ‘n Afrikaanse fantasieverhaal wat in ‘n sekondêre wêreld plaasvind (d.w.s. nie óns wêreld nie. Vir ‘n beter verduideliking, luister na hierdie potgooi van The Folklore Podcast – episode 17). Ek skryf ook hierdie roman as deel van ‘n skryfkursus waarmee ek besig is — wat nogal heel opwindend is, aangesien ek wonderlike terugvoer ontvang ná elke werkstuk wat ingehandig word.

Die stadstaat waarin die verhaal hoofsaaklik afspeel is Nisamy, waar maskerdra aan die orde van die dag is. Maar dis nie sommer net enige soort masker nie…

Die magie in Porselein

Soos in ander fantasieverhale, is daar in Porselein ook magie teenwoordig. Hierdie magie is in die vorm van die maskers wat, hoewel hulle van porselein is, saam met die gesig van die draer soos ‘n tweede vel beweeg.

Hier volg ‘n kort opsomming van die magie in Porselein se wêreld:

Die konsep:

Die konsep van die magie in die wêreld van Porselein is dat die mense maskers van porselein dra wat met magie gevul is en wat hulle toelaat om sekere mag bo ander te hê of om mense (tot op ’n punt) om die bos te lei.

Byvoorbeeld, die heerser van die stadstaat dra ’n masker wat hom meer charismaties laat voorkom en die mense na hom aantrek.

Net ’n paar mense kan egter maskermakers wees en het inherent die magie om die maskers te maak.

Hoe dit werk:

Die maskers word van porselein gemaak, wat in hierdie wêreld met magie gevul word en dan soos ’n gewone gesig beweeg. Die “krag” van die magie word egter verkry van herinnerings.

Herinnerings, “Leegmaak” & die Verkopers:

Die maskermaker kan sy/haar eie herinnerings gebruik, of die herinnerings van iemand anders gebruik.

Om iemand “leeg te maak” is om basies al hulle herinnerings te vat. Party van die armstes in die stad sal van hulle herinnerings verkoop aan maskermakers of aan die Verkopers en kan sodoende naderhand leeggemaak word.

Die Verkopers is dié wat herinnerings uit mense kan haal, maar nie die maskers kan maak nie en dan die herinnerings aan die maskermakers verkoop. Dié maskermakers wat wel hulle herinnerings by die Verkopers koop, vertel hulleself dat hulle “hande skoon bly”.

As deel van my een werkstuk moes ek die aanvangstoneel skryf. Hier is ‘n gedeelte (hopelik so ‘n lusmakertjie!) van die eerste toneel:

 

Aanvangstoneel

Musiek galm in Nisamy se strate. Met mens en gebou getooi vir die Somerfees het die eilandstadstaat oornag in ‘n reënboogryke pragspel verander. Die strate wemel van bont geklede en gemaskerde feesgangers terwyl die sekelmaan reeds hoog in die lug hang.

In een van die kamers van die herberg Die Byekorf maak Anrad reg om uit gaan en tussen die feesgangers te beweeg. Ook die vloer van sy eenvoudige kamer is met welriekende kruie bestrooi en die reuk van gekneusde roosmaryn hang in die lug terwyl hy die donkergrys klere van ‘n boodskapper aantrek.

Met sy linkerhand gespe hy ‘n mes met ‘n dun lem aan sy regtervoorarm vas sodat dit onder sy hempsmou versteek is. Hy bestudeer die drie maskers wat op die katel lê terwyl hy ‘n mantel om sy skouers vasspeld. Die eerste het ‘n lang snawel – ‘n armmansmasker – sonder verf of versiering, die voëlmasker. Die tweede is van dun porselein wat met fyn blompatrone versier is. Dis net die ding vir die fees en geskik vir iemand met geld. Maar dis die derde masker wat hom ongemaklik laat voel. Dis van sagte swart leer gemaak en het slegs twee skrewe vir oë en ‘n gleuf vir die mond. Dis geskep om bo-oor die porseleinmasker gedra te word. Dít is die diewemasker, die masker wat hy vanaand sal dra.

Hy tel die masker met bewende hande op en staar in die leë oogkasse. Dít sal die laaste ding wees wat Gorjan Solarash, leier van Nisamy, vanaand sal sien.

Anrad luister na die gesing en geraas buite sy kamervenster en glimlag. Môre sal almal in ‘n nuwe wêreld wakker word. En hy wat Anrad is, sal ‘n mantel van purpurrooi en ‘n masker wat goud werd is, dra. Hy druk die porselein- en leermasker in sy sak, sit die voëlmasker op, en kyk vir homself in die klein spieël wat aan die muur vasgespyker is. Die wit masker lyk meteens vir hom soos ‘n kopbeen.

Maar die tyd stap aan. Hy maak ‘n laaste keer seker dat die lem goed versteek is voordat hy die kamer verlaat en die deur agter hom sluit.

Die ander kamers in die gang is stil – almal is steeds in die groot voorkamer of buite besig om fees te vier. Goed so. Hoe minder vrae en hoe minder mense hom onthou, hoe beter.

Anrad verlaat die herberg en verdwyn tussen die feesgangers. Almal dra hulle feesklere en -maskers, sommige dans of sing in groepe en die musiek verdring mekaar terwyl hy van straat na straat loop. Sy kronkelende pad neem hom na Rigara, die rykste deel van die stad.

Hy haal die voëlmasker af toe hy Nisjar — een van die ryker woongebiede — bereik. Hier sal só ‘n masker nie deug nie. Hy smyt dit in ‘n naamlose stegie in, bly om van die teken van armoede verlos te wees. Hy vee sy voorkop met sy linkermou af en voel hoe die wind die sweet tussen sy kort bruin hare droogwaai. Hy staan ‘n oomblik so, maskerloos, op straat terwyl sy hart dreig om by sy keel uit te klim. Nog nooit het hy sonder die een of ander masker buite verskyn nie. Só arm was hy nog nie. ‘n Mens het darem jou trots.

Sy vingerpunte voel-voel aan die diep kreukels wat jare se maskerdra op sy gesig gelos het, en hy dagdroom oor die pasgemaakte maskers wat hy sal kan bekostig sodra hy sy betaling ontvang het.

Die porseleinmasker is koud in sy hande wanneer hy dit uit sy sak haal. Die blompatrone blik in die lig van die rye lanterns wat aan lamppale hang. Hy haal diep asem en sit die masker op. Die neem ‘n oomblik voordat die magie begin werk en die masker soos ‘n tweede vel saam met sy eie gesig begin beweeg. Hy glimlag en stap die rykes se strate binne.

Wierook verstik die strate met eksotiese geure en musiek galm van straat na straat. Goed belig en aansienlik skoner as Tserir se strate, is die versierings hiér van egte blomme.

Anrad vleg tussen die feesgangers, wiegend van een voet na die ander op die maat van die musiek asof hy reeds een van die rykes is. Hy bestudeer die gemaskerdes om hom. Almal verskillend. Elke porseleinmasker is ryklik versier met kleurvolle patrone en juwele en pas perfek. Hy kan homself nie keer nie en staar openlik. Waar die armes klaarkom met gewone klei of die swakste gehalte porselein, pas al dié maskers perfek soos ‘n tweede vel. Selfs die kleure smelt perfek saam met die velkleur van hulle eienaar.

Hy hoor geraas en gaan staan, sy gesig in die rigting waarvandaan gille kom. Dan sien Anrad haar. Een van die leeggetaptes; dié wat geen herinnerings het nie. Dié wat nie eens hulle eie naam ken nie. Hoe sy hier in Nisjar gekom het, weet nugter. Haar klere is duidelik dié van ‘n boemelaar, haar jong gesig en hare grys. Anrad het al ander leeggetaptes met sulke grys gelaatstrekke gesien. Hy kyk weg nes die ander. ‘n Armsalige wat hulle herinnerings vir geld verkoop is iets wat niemand ooit wil sien óf wees nie.

Die vrou babbel steeds vir die wagte wanneer Anrad om die hoek van Erdastraat verdwyn. Ná vanaand sal hy nooit weer só ‘n einde hoef te vrees nie. Een sluipmoord. Dit is al. Sny Gorjan se keel af terwyl hy slaap en jy sal beloon word. En wat het die maskermaker nie net alles beloof nie!

Hy buig vooroor, sy hande op sy knieë, en neem diep asem. Wat het ou Gorjan Solarash nou ooit in elk geval vir hom gedoen? Niks. Vanaand sal Gorjan leer hoekom jy nie jou mense stief behandel nie. Anrad kyk op na die heuwel in die middel van die stad waar Gorjan se woning bo ander uittroon. Nog net ‘n paar strate en hy is daar. Hy haal ‘n brief uit sy sak, kyk na die wasseël, en wonder wat op sý seël sal staan.

***

Om die voorkoms en gevoel van die verhaal te sien, kan jy gerus na hierdie Pinterest-bord gaan kyk: Porselein inspirasie.

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s