Fiksie: ‘n Geroeste sleutel

Michael staan voor die spieël, sy borskas oop, die metaal hart se ratte en buise besig om stadiger te tik-tak-tok, die bloed stadig deur sy are te pomp. Sy hart, anders as meeste mense s’n, is geroes en die ribbe-agtige metaalomhulsel gebuig en plek-plek ‘n dooie roesbruin in plaas van ‘n gesonde grys-silwer. Hy tel die vernielde sleutel van die wasbak se rand op en druk dit by die sleutelgat in, sluit die ribbekas vir die laaste keer oop en begin sy hart vir die laaste keer opwen. Dadelik voel hy beter. Lewendiger. Minder verganklik. Minder geroes. Hy sluit die ribbekas vir die laaste keer en druk die sleutel in sy sak.
Hy stap na die kombuis waar twee onduidelike swart-en-wit foto’s van hom en sy vrou se ongebore babas teen die yskas met ‘n rooi magneet vasgesit is. Dié haal hy af en sit dit ook in sy sak, versigtig om dit nie te buig nie. Behalwe vir Julie is die twee vae, naamlose hartkloppies die beste ding wat nog ooit met hom gebeur het.
Met een laaste kyk na sy skilderye en skilderdoeke wat die leefruimte vol staan, gaan hy by die deur uit en sluit dit agter hom toe. Hy klim die stelle trappe vinnig na die onderste vloer van die bleek woonstelgebou, gaan by die glasdeure en traliehek uit, en draai dan links. Michael loop al met die sypaadjie langs, verkyk hom een laaste keer aan al die hoë geboue en wens dat hy weer saam met Julie in die botaniese tuine was — een van sy gunsteling, ongeroeste herinneringe. Maar dan herinner hy homself daaraan dat Julie sonder behandeling nooit weer soontoe sal kan gaan nie. Nie sy of die twee ongebore hartkloppies nie. Hy stap vinniger al beteken dit dat sy hart al stadiger sal begin werk en hy die tik-tak-tok al stadiger begin hoor en voel.

Aan die einde van die straat, waar die stowwerige en afgematte winkels langs rommelgestrooide paaie staan, is die pandjieswinkel. Alhoewel dit ‘n plek is wat hy al sedert sy kinderdae haat en hy dit as ‘n laaste uitweg sien, is dit juis waarheen hy op pad is. Na André, die eienaar met die hart van klip.
Michael aarsel voor die pandjieswinkel. Hy weet al te goed dat ‘n kamera op hom gemik is en dat André hom reeds dophou. Dit is te laat om nou te loop. Daar is geen ander uitweg nie. Al is dit vir André wat hy alweer in die oë moet kyk.
Toe agter tralies – beide die ruite en die deur – staan stowwerige besittings wat einde ten laaste hier ‘n heenkome gevind het toe hulle eienaars nie meer anders kon nie. André kon maar sê wat hy wou – in stilte het almal geweet dat die sleutels wat so agter tralies en glas weggebêre is nie slegs dié van die afgestorwenes is nie. Partykeer laat ellendigheid mense snaakse dinge doen. In die ou glaskas by die toonbank, agter tralies en met CCTV-kameras op dit gerig, kan hy ‘n ry ou hartsleutels sien. Nie een van hulle is so geroes of verniel soos syne nie, besef Michael. Maar daar is baie redes hoekom mense hulle hartsleutels pand. Vir hom is daar drie redes. Sê dit nie tog iewers in die Bybel iets van jou lewe vir jou vriende opoffer nie? Wonder hy. Maar Sondagskool was lank, lank gelede en hy kan nie onthou wanneer laas hy sy hardebandbybel Bybel met die swart omslag oopgeslaan het nie. Hy sluk-sluk en voel skuldig, voel asof twee oë hom deurboor. Dalk moes hy darem iéts gelees het voor hy hierheen gekom het. Selfs net Psalm 23 – ‘n laaste troosvers vir iemand wat voor die doodskadu te staan kom.

Michael druk die knoppie langs die traliehek. Iewers klink ‘n irriterende deuentjie op voordat die deur luid oopklik. Hy trek dit oop, gaan binne. Sy voetstappe word deur die goedkoop mat op die vloer ingesluk en die winkel bly doodstil.
André, die eienaar van die pandjieswinkel, kom van agter een van die rakke orent en grynslag toe hy sien wie dit is.
“Michael, Michael, Michael. En wat het jy vandag vir my?” Sy stem is dik van die sigaretrook, sy vel verrimpeld van drank.
Michael haal diep asem, dink aan die drie lewens wat in die hospitaal lê en wag vir hom om terug te keer.
“My sleutel.” Hy haal dit uit sy sak en plaas dit op die toonbank.
André kom nader gestap, balanseer sy ou bril op die punt van sy neus en kyk na die sleutel asof hy dit nie al vantevore gesien het nie.
“Alweer?” vra hy dan.
“Ek kan nie anders nie.” Michael kyk af na die sleutels in die glaskis. Hy wonder hoeveel van hulle eienaars nog leef. Hoeveel spartel om geld bymekaar te kry om die sleutels by André terug te koop. “Komaan, André, jy weet so goed soos ek dis ‘n goeie deal. En ek gaan dit dié keer vir ‘n hele week hier los.”
“En as ‘n versamelaar die ding kom koop? Wat dan?”
“Dan sal dit ‘n goeie kopie wees, hoop ek. En jou hande sal in onskuld gewas wees, André. Ek het dit so ook in my boedel aangeteken. Jy hoef jou oor niks te bekommer nie.”
André trek ‘n paar wit katoen handskoene aan, tel die sleutel op, en draai die sleutel om en om in sy hande, versigtig om nie enige van die roes af te krap nie – dié is te kosbaar om te verniel of te vernietig.
“Hoeveel wil jy nogal vir jou sleutel hê?” vra André.
“Dubbel wat jy my laas gegee het,” sê Michael en noem die getal. André se oë begin byna water. “Jy kan drie keer soveel vra vir die een wat hom wil koop. ‘n My prys is ‘n regte bargain.”
“En die geld? Wat wil jy daarmee —”
“Vra ek jou oor jou persoonlike sake uit? Kyk, my hart is opgewen — minder as ‘n uur gelede. Ek sien jou oor ‘n paar dae met die geld in my hand.”
André haal die bril af. “Jy trick my nie?”
“Nooit nie. Hoeveel keer het jy my nie al uit die verknorsing gehelp nie.” Michael skop-skop met die toon van sy skoen teen die growwe mat.
André weifel. Dan: “Wag hier.”
Hy loop na agter in die winkel waar ‘n kluis met die geld gehou word. Michael kan hoor hoe dit oop en toe gaan voordat André weer te voorskyn kom, ‘n pak R200-note in sy hand. Hy hou sy ander hand uit vir die sleutel voordat hy die geld aan Michael oorhandig.
“Ek hoop dis dit werd, Michael,” sê André en gryp die sleutel. Hy plaas dit tussen die ander sleutels in die glaskis. Michael antwoord nie, loop net by die windkeltjie uit en draai in die rigting van die hospitaal.
Michael vleg deur die mense wat met die sypaadjie langs skarrel. Sy voete ken die pad na die hospitaal ál te goed. Hy let nie op na die mense om nie, luister net na die gedruis van bloed in sy ore en die tik-tak-tok van sy hart. Reeds beweeg die skroewe stadiger as vantevore.

Hy knik so half-half vir die sekuriteitswag by die hospitaal se hoofingang en probeer sy bes om die ongevalle-ingang daar langsaan mis te kyk. Dit werk nie en ‘n rilling trek by sy rug af toe hy sy eie rit saam met Julie in die ambulans onthou. Sy voete lei hom na die hysbak en druk outomaties die knoppie vir die tweede vloer.
Soos hy uitklim groet die reuk van ontsmettingsmiddel en seep hom. By die saal se deur spuit hy ontsmettingsmiddel op sy hande. Die koue vloeistof ruk hom terug na die hede. Hy sluk sy vrees en hartseer sodat dit as ‘n krampagtige pyn in die middel van sy bors gaan lê. Dan glimlag hy breed soos hy by die gang afloop en die verpleegsters en susters groet. By kamer sewe stop hy, neem ’n diep teug asem en gaan die kamer binne.
Julie lê in die bed, die bedgordyn oopgetrek, haar oë gelig na die TV-skerm teen die dak, oorfone aan sodat sy Michael vir ‘n oomblik nie hoor nie. Dan flikker haar oë na sy beweging en ‘n glimlag sprei tot by haar oë. Sy strek een hand na hom uit; ’n woordelose groet.
Haar hand is warm, anders as syne. Die pyn in sy bors vererger en vir ‘n oomblik tik-tok sy hart vinniger voordat die bloed weer stadiger deur sy hartkamers vloei. Hy sit sy ander hand saggies op haar maag en verbeel hom dat hy die tweeling se hartkloppe kan hoor. Kan voel.
“Kry vir jou ‘n stoel,” sê sy. Hy laat die soete geluid van haar stem oor hom spoel. Voel weer sy borskas saamtrek.
“Ek kan nie lank bly nie.” Hy buk, soen eers haar maag en dan haar lippe. “Ek wou net sê,” hy aarsel, “dat ek ‘n manier gekry het om te betaal.” Hy forseer himself om te glimlag – met sy oë te glimlag.
Sy sit regop. “Maar hoe?”
Hy streel haar hare. “Geleen. Ek het maar toe na my oom gegaan en hy het ja gesê,” jok hy. Sy hart tik-tak vir ‘n oomblik…… en weifel… en tik… tak… tok… dan stadig verder. Hy soen haar weer.
“Ek moet gaan – gou die geld gaan inbetaal.” Soos hy afbuk vir ‘n laaste soen, glip hy die pak note by die laaikassie in. Hy sluk weer aan die seer knop in sy keel. Sy sal wel later kan betaal, dink hy. Later verstaan.

Buite die hospitaal klink die klanke van die voorstede. Michael sluk-sluk, haal diep asem, en laat dit stadig uit. Steeds word die tik-tak-tok stadiger. Moet hy by die koffiewinkel gaan sit? wonder hy. ‘n Antiklimaks vir ‘n lewe van antiklimakse.
‘n Bordjie vang sy oog; “Prayer Garden”. Sy voete kies pad soontoe voordat sy kop kan besluit. Sy hart het lankal moed opgegee. Die tik-tak-tok klink nou al stadiger, die bloed al stadiger, sy treë al stadiger, sy denke al stadiger. Hy merk ‘n dun skadu om die rand van sy visie en wonder of dit dan nou die doodskaduwee is wat hom al sedert sy kinderdae hinder.

Die tuin is netjies uitgelê, met beddings vol laventel, rose, en struike wat die bidders se bankies van mekaar skei. Hier en daar is ‘n staal naamplaatjie ter ere van iemand opgerig. Hy struikel na die naaste oop bankie en sak daarop neer.
Tik… tak… tok… klop-suis-pomp sy hart soos die skroewe al stadiger draai.
Hy haal die twee swart-en-wit foto’s van die ongebore hartkloppies uit sy sak en kyk daarna. Verbeel hom die ferweelsagte babavel, die eerste dag van skool, universiteit, trou en wens hulle alles wat goed is in die lewe — laat dit soos ‘n gebed vanuit die tuin opstyg na waar God vandaan besig is om te luister.
“Ek het niks berou nie,” fluister hy vir die foto. “Nie as dit lewe vir julle beteken nie.” Sy wysvinger volg die kontoere van die twee ongebore hartkloppies op die foto’s en hy glimlag.
Tik…tak…

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s